Jodi Dyssel
Op 11 Januarie het net ons graad aggies skool toe gekom vir die begin van 'n lang en “groen” week wat lekker maar uitputtend was. Die Maandag het ons by Helpmekaar aangekom met ons koffers gevul met ouma- en oupaklere. Ons mag nie mekaar se hande gelos het nie, anders sou ons die Helpie-ketting breek, wat nie mag gebeur nie! Die dag het verloop met atletiek-, koor- en dramauitdunne. Die aand het ons met ons oumensklere deur die hele skool, wat op ons eerste dag soos 'n kasteel gevoel het, geloop.
Na 'n nie-so-lekker slapie het ons wakker geskrik met die hardste musiek wat ek nog ooit gehoor het! Dit was niks anders as 'SLIPKNOT' nie! Buite in die half-donkerte het ons met blinddoeke vergader en moes ons vertroue hê dat die matrieks tog harte het en dalk ons lewens sou spaar. Ons kon net hoop dat hulle ons nie onwetend van die hooftrappe sou laat afspring nie. Die swembad sou vreeslik koud wees so vroeg, wat dít hopelik nie 'n opsie sou maak nie! Gelukkig moes ons net die Skoollied en Verjaarsdaglied sing totdat ons dit geken het.
Woensdag het al die ander grade lekker vir ons gelag met ons oulike borslappe en fopspene wat soms diep in ons borskaste gesteek het as die matrieks skree: “Kamoefleer!” Tweede pouse was elke graad agt se nagmerrie. As daai klok lui, gryp ons almal hande en beweeg ons af vir nog “liefde” van die matrieks af. Vrydag was dit die swemgala, ons vreeslik talentvolle groentjiekonsert en ons inhuldiging, waar ons uiteindelik nie meer vereenselwig was met die woord “groen” nie. As ons nou terugdink, het ons baie pret gehad en kon ons die eerste week nie meer geniet het nie!