Thursday, April 22, 2010


Nerine Gouws & Andries Louw
Sakkie van der Merwe het eens gesê: “Luister hier, laat ons mekaar nou mooi verstaan, my bal is my bal, en jou bal is ook my bal.” Alhoewel hy hier na rugby verwys, voel ons dat dit ook van toepassing is op ons wonderlike Valentynsbal.
Dit was skemer toe alles begin het. In afdakkarretjies, “limo's”, of selfs agterop bakkies, die opwinding was beslis by die aankoms reeds voelbaar. Daarna staan ons almal rond in groepies saam met vriende, en wonder wie volgende om die draai gaan verskyn. Oral waar 'n mens kyk, sien jy net die flitse van kameras. Met kerse wat die paadjie belig, het ons saam met ons metgeselle op die rooi tapyt gestap. Nes dit in Hollywood gebeur, kon ons enige tyd stilstaan en vir die “paparazzi” glimlag.
Die aand het amptelik begin met die eerste liedjie. Alhoewel daar 'n paar bandjielose rokke op die verkeerde tyd afgegly het, op 'n paar tone getrap is en sommige hakke nou maar net te hoog was om in te dans, was die dansvloer definitief aan die brand (ons almal kon beslis die hitte in die saal aanvoel). Die verskeidenheid musiek en dansliedjies was groot genoeg om elke siel te bevredig en akkommodeer. Van “doef-doef”-musiek tot die “macarena”, sokkieliedjies tot by die hele GHRIES-“repertoire”, liefdesliedjies en selfs die Leeuloop is gespeel en op die dansvloer gemakietie.
Selfs die digter D.J. Opperman sou die aand by ons geniet het, want soos hy eens gesê het: “Die hoogste vreugde van die aarde word gewek deur die vier-eenheid: eet, drink, dans en gesprek.” Nommer een, eet: enige hoërskoolkind se gunsteling - pizza! Die Debonairs-manne kon nie vinnig genoeg naderstaan om almal se leë magies te vul nie. Nommer twee, drink: Tannie Sonia was gereed met al ons gunsteling koeldranke, in ons gunsteling snoepie. Nommer drie, dans: hoef daar enige iets meer gesê te word? En nommer vier, gesprek: as die voetjies moeg was en die lywe lam, was daar oorgenoeg sitplek om rustig te sit en gesels, of om te bespiegel oor ieder en elk se wonderlike, of nie so wonderlike, uitrustings. Vir dié wat dalk 'n bietjie te warm gekry het, was daar darem genoeg liters water byderhand om in af te koel, of dit nou net die bene en voete was, of sommer 'n heerlike ghoef, die swembad was lekker verfrissend.
Selfs die dekor en vermaak was van die beste wat daar nog ooit by Helpmekaar was: mense wat vuur in die lug rondgooi, 'n DJ wat beslis sy storie geken het, maskers teen die mure wat net die grootste dinosourusse sou pas en liggies en blommetjies wat ons skool in 'n sprokieswêreld omskep het.
Die 2010 Valentynsbal was beslis 'n aangename verrassing en ons, Andries en Nerine, kan met oorgawe sê dat dit nie net my bal was nie, dit was nie net jou bal nie, maar dit was verseker ons almal se bal
Andreas Oosthuizen
Die liefde darem . . .dit is nie altyd verdoem nie, selfs al voel dit soms so! Liefde is 'n sterk emosie, want "love overcomes all obstacles!”
Helder kleure, hoede, linte, dasse en maskers. . .dit was Valentynsweek by Helpies - 'n week van lag, pret hê, laf (in die goeie sin van die woord) wees en natuurlik verlief wees. Kyk, Valentynsweek is nou eenmaal 'n gebeurtenis op die kalender wat nie gemis moet word nie - inderdaad 'n Mardi Gras!
Ten spyte van al hierdie pret, het ons Helpies ook die dieper kant van die liefde raakgesien; die kant sonder die pret. Ons het dae opgedra aan MIV/Vigs asook aan die slagoffers van die aardbewing in Haiti. Alhoewel hierdie onderwerpe morbied mag voel, bly daar altyd dié wat onvoorwaardelik in die liefde glo, die optimistiese St. Valentine in elk van ons!
Kan julle julle net indink hoe dit moet wees om verlief te wees, maar nie verlief te mag wees nie? Gelukkig is die dae van die mal Keiser Claudius II verby! Hy het mos geglo dat enkellopende mans beter soldate maak as dié met vrouens en kinders (duidelik was hy nie die skerpste potlood in die blikkie nie). Om 'n sterk weermag te bou, verbied hy toe huwelike, maar gelukkig was daar mense soos die priester Valentine wat aangehou het om paartjies in die geheim te trou!

Ten spyte daarvan dat Valentine gevang is en in die tjoekie moes sit en wag om doodgemaak te word, het hy bly glo in die liefde. Terwyl hy in die tronk was, het hy blykbaar verlief geraak op die tronkwag se dogter en op die dag van sy dood 'n brief aan haar geskryf "from your Valentine".
Liefde het die "oorlog" gewen en sal altyd. Terwyl Valentine daar in Rome in die derde eeu in die tronk gesit het, het hy ongelooflike ondersteuning van die mense gekry. Mense het rose aangedra om te wys dat hulle ook in die liefde glo. Valentine het sy lewe vir die liefde opgeoffer. . .die liefde is sterk.
Helpies, gee 'n roos aan die liefde en bly daarin glo. As die liefde vir jou werk, baie geluk. Indien nie - bly glo, want elke pot het sy deksel - partykeer moet mens maar net bietjie in die kas grawe om die regte een te kry!
Jodi Dyssel
Op 11 Januarie het net ons graad aggies skool toe gekom vir die begin van 'n lang en “groen” week wat lekker maar uitputtend was. Die Maandag het ons by Helpmekaar aangekom met ons koffers gevul met ouma- en oupaklere. Ons mag nie mekaar se hande gelos het nie, anders sou ons die Helpie-ketting breek, wat nie mag gebeur nie! Die dag het verloop met atletiek-, koor- en dramauitdunne. Die aand het ons met ons oumensklere deur die hele skool, wat op ons eerste dag soos 'n kasteel gevoel het, geloop.
Na 'n nie-so-lekker slapie het ons wakker geskrik met die hardste musiek wat ek nog ooit gehoor het! Dit was niks anders as 'SLIPKNOT' nie! Buite in die half-donkerte het ons met blinddoeke vergader en moes ons vertroue hê dat die matrieks tog harte het en dalk ons lewens sou spaar. Ons kon net hoop dat hulle ons nie onwetend van die hooftrappe sou laat afspring nie. Die swembad sou vreeslik koud wees so vroeg, wat dít hopelik nie 'n opsie sou maak nie! Gelukkig moes ons net die Skoollied en Verjaarsdaglied sing totdat ons dit geken het.
Woensdag het al die ander grade lekker vir ons gelag met ons oulike borslappe en fopspene wat soms diep in ons borskaste gesteek het as die matrieks skree: “Kamoefleer!” Tweede pouse was elke graad agt se nagmerrie. As daai klok lui, gryp ons almal hande en beweeg ons af vir nog “liefde” van die matrieks af. Vrydag was dit die swemgala, ons vreeslik talentvolle groentjiekonsert en ons inhuldiging, waar ons uiteindelik nie meer vereenselwig was met die woord “groen” nie. As ons nou terugdink, het ons baie pret gehad en kon ons die eerste week nie meer geniet het nie!
Mia Roberts
Die aand van Vrydag 16 Januarie 2010 was die graad agts senuweeagtig, maar opgewonde. Die groot toets het op hulle gewag: die Groentjiekonsert. Nadat hulle die hele week lank moes kamoefleer, was Vrydagaand die graad agts se goue geleentheid om vir die hele skool te wys dat hulle hul baadjies werd is.
Met die Groentjies op die planke, was dit 'n herlewing van die huidige matrieks se herinneringe van Helpmekaar. Van “die Elmo-liedjie” tot die korrekte uitspraak van Laudatio. Elke reël van die teks is voorgedra sonder dat die graad agts noodwendig geweet het wat die oorsprong daarvan was. Die danspassies is met oorgawe gedoen en die graad agts het elke oomblik van die kollig ten volle geniet. Alhoewel daar effens op party onderwysers se tone getrap is, het die leerders die humor geniet sonder dat dit nodig was om regsadvies te kry. Wat is 'n Groentjiekonsert sonder om met iemand te spot?
Die konsert was puik beplan en opgevoer deur Abri Grobler en Larét van Niekerk. Harde werk word altyd beloon - die Welpies het Helpies geword!
Graad agts van 2010: Raak gemaklik in julle baadjies. Julle het dit werklik verdien!

Izelle Taljaard
Toe ons nuwe soorte liedjies begin sing het by geesvang was die gewone brompraatjies weer in die lug, maar toe daar nóg liedjies bykom, was dit nie meer onskuldige praatjies nie.
Dit het als begin met 'n facebook-groep …
Gebruik ou geesvangliedjies vir Helpies? Daar was nog altyd mense wat ontevrede was met geesvang, maar 'n hele groep? Die groep het nie baie lede nie, maar daar is genoeg om chaos te skep. “Ek gaan nie atletiek toe gaan as ek weet ons moet Mamma Mia, Lemon Tree of I've got a feeling, sing nie. Ek is jammer maar dis NIE DIE HELPMEKAAR WAT EK KEN NIE !!! Ek skaam my vir die nuwe goed,” het op die groep se profiel gestaan. Ander kinders het ook hul opinie gelewer: “Hou op om al die goeie liedjies wat daar is te vat en ander woorde in te sit en dit te gebruik vir geesvang.”
Ek het rondgevra om uit te vind wie van die liedjies hou, en wie nie. Baie kinders was daarteen, ander daarvóór en sommige was neutraal. “Laat die dirigente hulle ding doen. Oor 'n jaar kan die graad 11's 'n bietjie hul eie ding inbring. Los net die dirigente uit, dis hulle time to shine en as jy nie daarvan hou nie, bly eerder stil!”
Almal kan nie altyd tevrede wees met alles nie. Die dirigente glo die nuwe bewegings gaan definitief aandag trek en sê dit lyk ongelooflik van voor af. Ons stem is dalk nie groot nie, maar as almal saamwerk, kan ons nog steeds 'n groot indruk maak. So my advies: probeer 'n bietjie optimisties wees!


Liesl Olivier
Dit sit definitief nie in enige persoon se broek om so hard te werk nie, maar Danielle het geweet wat sy wou bereik. Sy is blond en lank en kon net sowel 'n model gewees het (vir verdere bewyse kyk na haar matriekafskeidsfoto's ...). Sy het 'n lewensmotto wat vir niks skrik nie. Sy glo almal kan hard werk en dit gaan nie noodwendig oor slim wees nie, dit gaan oor die moeite wat jy in jou werk insit. Sy glo nie daaraan om deur die nag te leer nie, maar eerder dat jy jou slaap moet inkry. Sonder haar 9 A's klink sy vir my al klaar slim !
Terwyl Danielle regmaak vir haar groot drome is sy tans besig om te werk vir genoeg geld om in Augustus Amerika toe te vertrek. Sy wil daar studeer by een van Amerika se Top Ivy League-universiteite. Sy wil graag film, drama en kreatiewe skryfwerk gaan swot, sy was immers op die Helpie-redaksie! Sy is ook besig om Frans en die kitaar te bemeester sodat sy in haar tweedejaar Frankryk toe kan gaan.
Waar een van König se “kinders” by die voordeur van sukses in filmprojekte (en eendag haar eie produksiebesigheid) staan, wens ons haar geluk toe. Ons is ontsaglik trots op haar en wens haar net die beste toe! Hou Helpmekaar Kollege se naam hoog, Dux-leerling van 2009!
Lara Erasmus
Wie sou kon raai dat agt letters soveel betekenis kan dra? Soveel mag oor jou toekoms besit? So 'n groot invloed kan hê op die lewe van môre? Die Helpies, dis wie! Ja-nee kyk, as dit by akademie kom, neem Helpmekaar die voortou – IEB-onderwys, klein klasse en boonop 100% universiteitstoelating vir 2009 se matrikulante. Maar soos ons by mnr. König geleer het, is daar altyd plek vir verbetering en daarom het hy dit goedgedink om vanjaar, bykomend tot Duits, Frans en Zoeloe, ook Spaans en Mandaryns te laat aanbied. Vir dié van julle wie se talent nie by tale lê nie, is daar nou ook sportwetenskap ...
Mev. Maria Buckley het vanjaar by ons personeelspan aangesluit om Spaans te onderrig. Haar passie vir die taal het duidelik deurgeslaan toe van haar gr. 8-leerders hierdie periode as "interessant" en "great" beskryf het. Hou die vak dop ... dit gaan nog groot dinge vir Helpmekaar beteken. Verder is mev. Aritha Kruger nog net so gek oor Frans soos altyd, vir die senior burgers tussen ons is juf. Kruger al sinoniem met Frans. Die Franse studente kan nie anders as om self lief te raak vir die taal nie. Liza Fryer in gr. 9 sê: "Ek dink die Franse klas is baie cool, met al die stories wat Juffrou vertel en deur net die taal te leer, voel dit of 'n mens regtig in Frankryk is."
Die sportliefhebbers onder ons se wildste drome het eindelik waar geword ... ja, sport is nie net meer netbal, rugby en atletiek nie, maar het die jaar 'n vak geword: Sportwetenskap. Alhoewel die graad tiens erken dat dit baie en soms moeilike werk is, is dit 'n interessante en lekker periode! 'n Saam-praat-saam-leer-saam-werk-klas. Net soos alles anders wat hy aanpak, is mnr. JP van der Merwe opgewonde en passievol oor die nuwe vak! Beslis iets om dop te hou ...
Ja, hier by ons maak akademie nie net vir jou deure na die buitewêreld oop nie, dit is ook interessant, lekker en propvol verrassings!


Marelize Nel
28 Januarie was die aand vir ons akademiese “crème de la crème”. Dié Helpies het hard gewerk om uitstekende punte te behaal en dit was hul beurt om 'n bietjie te spog.
Die glorie van die aand het sommige toeskouers oopmond van verwondering gelaat. Of dit nou die betowerende kooruitvoering of 'n gemiddeld van 96.9% was, die akademiese prysuitdeling het gewys hoe begaafd Helpmekaar se leerders is.
Graad 8 van 2009 se drie beste presteerders was Elouise Minnie (91.64%), Hildezahn Hay (91.26%) en Marna Ungerer (91.21%). Daar is net 'n klein verskil (0.05% om presies te wees) tussen nommer twee en drie in die graad. Party van ons kan maar net droom van sulke pragpunte!
Die top drie in graad 9 van 2009 se punte is verstommend. In die derde plek is Tineke Harris met 93.5% en tweede Margaux Fourie met 94.48%. Eerste staan 'n briljante hardwerkende meisie, Rèzanne Neethling met 'n ongelooflike 96.9%, wat almal hoorbaar na hul asems laat snak het.
Die seniors van Helpmekaar het ons nie teleurgestel nie. In Graad 10 van 2009 was daar voorwaar 'n stryd om eerste te wees. Jacobus de Wet het die derde plek met 90.8% opgeëis en Marthinus Jacobs was tweede met 91.33%. Marguerite Bierman het die wedloop beklink met 92.09%.
Die matrieks van 2010 se gr.11- punte was werklik bewonderenswaardig! Niemand kan stry dat graad 11 en 12 moeilike jare is nie en daarom is 'n derde plek met 88.51% 'n fantastiese prestasie. Welgedaan Nicolaas van der Westhuizen. Tweede was Shané van Graan (89.64%) en eerste Jean le Roux met 90.57%!
Om by die akademiese prysuitdeling vereer te word, moet jy nie net slim wees nie, maar ook hardwerkend. Helpmekaar het duidelik baie begaafde kinders maar niks gebeur sommer vanself nie; dit verg toewyding en werksywer. Dus - Helpmekaar KAN! Komaan!
Leney Vercelotti
Die nuwe generasie Afrikaanse “rock”-groepe is vinnig besig om in die Afrikaanse musiekbedryf vir hulleself naam te maak. Die sukses van dié groepe hang af van die tyd en aandag wat hulle aan toere, albums en lirieke bestee. Een van die groepe is EF-EL.
EF-EL het vir die eerste keer geraas gemaak toe hulle as die wenners van die 2006 JIP Rockspaaider-kompetisie aangekondig is.
Vier jaar later is hulle energie steeds aansteeklik en hulle tegniek en musiek is uniek. Die vierstuks bestaan uit Fritz Bucker (sang en kitaar), Naas van Jaarsveld (hoofkitaar), Louw Lensley (baskitaar) en Hugo Brand (tromme en agtergrondsang).
Die naam “EF-EL” (vir dié van julle wat grootoë maak) was nooit vulgêr bedoel nie. Die naam kom van hulle oorspronklike naam “finally legalised”.
Ek het Fritz Bucker gekontak en vir hom 'n paar vrae gevra:
Leney: Hoe het julle musiekgroep begin?
Fritz: Naas het vir my 'n paar akkoorde geleer, toe skryf ek maar “songs” op skool. Daai tyd het ons enige “gig” gespeel wat ons kon, meestal in Bronkhorstspruit.
Leney: Wat was jou gunsteling musiekvideo om te skiet en hoekom is dit jou gunsteling?
Fritz: “Sing my net aan die slaap”, want ek het “direct”.
Leney: Wat kan ons in 2010 van die “band” verwag? Beskryf dit in een woord, asseblief.
Fritz: Vryheid (net wat ons wil doen – dis nog altyd die reël).
Ek sluit af met 'n aanhaling van Fritz Bucker: “Om te glo in iets is verrykend en dit kan 'n leeftyd duur. Om te glo in jouself is onbeskryflik, maar die geloofsywer is tydelik, dit is die manier van die mens.”

Op die hoek van Hallelujah en Hosannah…

Odette Graskie
Onlangs is daar gepreek oor die teenwoordigheid van God in ons lewens … Dit het eers 'n paar dae later ingesink en in my begin opborrel dat alles en almal 'n bietjie van God in hulle het. Die duiwe, die blomme, meneer Marnus en selfs die teerpad waarop ons busse skool toe ry.
Elke aksie, elke keer as jy huil, lag of bloos, is God daar. Hy is soos die gom wat die molekules bymekaar hou. Net só kan God ook jou lewe daarvan weerhou om aan flarde te skeur. Depressie? Kanker? 'n Problematiese verhouding? Pyn in jou groottoon? God kan jou help.
Daar is net drie stappe wat gevolg moet word om jou lewe reg te maak, naamlik:
1. Bid – vra vir God om jou te help en sê dankie vir wat jy het en vir wat Hy vir jou doen.
2. Glo – God sal jou help. Moenie huiwer nie, glo.
3. Chill en wag – Jou probleem gaan nie dadelik opgelos word nie. Jou antwoord sal kom wanneer dit moet en nie 'n sekonde vroeër nie… Al wat jy kan doen, is seker maak dat jou verhouding met God reg is, dit kan nooit skade doen om 'n bietjie geestelik te groei nie!
“Kyk, Ek staan by jou deur en Ek klop. As jy my stem herken en die deur oopmaak, sal Ek na jou toe ingaan en ons sal die feesete saam geniet.” (Openbaring 3:20)
Madaleen Swanepoel
Sy skuilnaam is kaassnyer. Hy is vir talle dogters 'n hoofpyn en het al sommige leerders gekneusde skedels besorg. Hy is soos 'n muskiet in die donker, maak nie saak hoeveel keer jy 'n poging aanwend om van hom ontslae te raak nie, hy kom altyd terug.
O ja, ek praat van die meisies se strooikapsels. Vele ure is ek al vermaak in klaskamers en op die stoepe, deur my eie en medeleerders se gedagtes en idees oor hoe om van dié hardehoed ontslae te raak. Hier volg 'n paar van die mees oorspronklike (soms gewelddadige) fantasieë oor hoe om die strooihoed te laat verdwyn (dit word nie aanbeveel dat enige leerder die idees 'n werklikheid moet maak nie):
1. Maak 'n groot "basher bonfire" en nooi die hele graad om te kom malvalekkers braai.
2. Spring op hom (die idee is al getoets, die uitslag was negatief).
3. Gebruik hom as 'n veerpylbord as naweke in 'n vervelige affêre ontaard.
4. Laat val hom net "toevallig" voor La't Spaander wanneer hy verbyry.
5. Toets of hy 'n goeie geleier van elektrisiteit is.
6. Gebruik hom om te toets of die swembadsuur nog suur is.
7. En laastens: Vat 'n bielie van 'n bulldozer en ploeg oor hom, toets dan jou AK47 op hom, laat volgende 'n 10 ton olifant op hom sit terwyl Superman hom met sy laser-oë brand. Rond als af deur hom per ongeluk in 'n piranha-dam te vergeet.

Een ding moet ek darem sê: al is ons strooihoede soms so irriterend soos 'n klikkende pen in 'n eksamenlokaal, kan niemand ontken dat ons aandag trek en bewonder word nie.
Aan al my mede-strooihoeddraers: "Vir julle haal ek my hoed af!"

Koshuiskos is kwaliteit


Ané Lombaard
Vandag skok ek die skool met die volgende aankondiging. . . Koshuiskos IS eintlik lekker!
Agter die skerms werk 'n wonderlike span wat bestuur word deur ons eie Tannie Chantel, onder andere Connie, Betty en Pinky. Van “steak en chips” tot hamburgers op Vrydae - daar is niks wat hulle nie kan maak nie. Die koshuiskinders word dag na dag bederf met die lekkerste etes en tweedepouses kan die “dailies” in ons vreugde deel.
Die algemene etes vir 'n koshuiskind lyk so:
Ontbyt: Eiers met amper elke oggend 'n vleisie by, roosterbrood, 'n verskeidenheid graankosse en vrugte.
Middagete: Aartappelskyfies, met vark-/skaap-/beesvleis en lekker gekookte groente. Donderdae eet ons poeding wat gewoonlik jellie met vla is.
Aandete: Elke aand eet ons 'n ander smaaklike gereg, byvoorbeeld lasagne of pastei. Daar is altyd variasie sodat ons nie verveeld raak nie.
Daar is klaar gepraat van kos, maar wat drink ons? Oros, oros en, wag daarvoor . . . Oros! Tog raak ons nie moeg vir hierdie oranje koeldrank nie, dit bly net lekker.
Ons wil baie dankie sê aan die spesiale vroue wat ons koshuiskinders so goed versorg – hulle maak meer as honderd en vyftig etes per dag, vyf dae per week!
Nou ja, nou weet julle die koshuisetes is kwaliteit. Gaan bespreek gerus by die Finansiële Kantoor, dis net R25 per ete.

Agter die skerms …

Richard van der Merwe
Ek glo skool werk eintlik maar heel eenvoudig. Jy het jou twee basiese entiteite: die een is onderwysers (waarsonder skool meer soos 'n dieretuin sou wees) en die ander een is natuurlik ons. Onderwysers is hier om ons te probeer leer. Ons, aan die ander kant, is hier om dit so moeilik as moontlik vir hulle te maak.
Maar wat sommige van julle nie geweet het nie, is dat daar elke Vrydagoggend om 07:00 (terwyl meeste van ons in die verkeer sit op pad skool toe en die koshuiskinders nog alte lekker slaap) een of ander 'vergadering' van personeel plaasvind. Wat die aard van hierdie vergaderings is, is nog onseker, maar daar is twee dinge vasgestel: daar is altyd baie beskuit en baie tee, en leerlinge word glad nie in die personeelkamer toegelaat tydens hierdie gekonkelry nie.
Een van onse einste veteraan Helpie-speurders (slegs bekend as 'Die Gemaskerde Sopbeen') het onlangs probeer om die personeelkamer te infiltreer om sodoende hul geheime komplot aan die lig te bring, maar die vensters was ongelukkig klankdig, en die probeer-juffrou-Lida-omkoop-met-biltong-en-brandewyn-strategie het misluk.
Daar is wel op 'n dokument beslag gelê toe Die Gemaskerde Sopbeen 'n posduif in die kantoor gevang het – dit was 'n enkele papierstrokie met mnr. König se handskrif wat lees: “Die vrag vanaf Duitsland is op pad. Die seuns sal binnekort hul kruisbande hê.”

Hoekom mnr. Calla se oë so blink

Marli Rossouw
Walk-the-Talk 2009 – dit was min of meer die eerste keer dat die Helpies haar gesien het. Mnr. Calla het hand aan hand met 'n blonde vrou gestap. Of dalk het hy eerder gesweef … Dit was toe al duidelik dat die oulike Trinette Tait sy hart gesteel het.
Die kinders in mnr. Calla se klas het ook gou geweet hier kom 'n ding. Want sien, wat die hart van vol is, loop die mond van oor ... Mnr. Calla het Trinette by 'n kerk in Melrose ontmoet en hulle is al sewe maande lank 'n "item".
Die beste deel van die storie was natuurlik die dag toe mnr. König aankondig dat mnr. Calla verloof is. Die skool het gejuig en soos een man omgeswaai om na die bloedrooi onderwyser te staar wat tog so graag in die grond wou wegsink.
En nou is die hele storie uit: op 'n romantiese strand in Indië het mnr. Calla vir Trinette om haar hand gevra. Hoe kon sy dan nee sê, almal weet mos enige Helpie-onnie is beslis 'n vangs!
Die groot dag is 21 Augustus en mnr. Calla se toekomsplanne is dat hulle eers ewe rustig in die koshuis sal bly. Daarna droom hy van 'n huis, 'n hond, 'n braai en wie weet, dalk kinders …?
Namens al die Helpies wil ons graag vir mnr. Calla en Trinette gelukwens met hulle verlowing. Ons wens julle 'n lewe vol vreugde en vrede toe en hoop dat al julle drome waar sal word!

Uit die Kombuis van Lavelle Riga

Toebroodjie met tuna en gerasperde appel

1 geblikte tuna, in olie (of water vir die gewigbewustes)
2 t mayonnaise
½ appel (klein) – fyngekap en in suurlemoensap gedoop
Kaas – cheddar of gouda, gerasper
4 snye van jou gunsteling brood

Meng die tuna, mayonnaise en appel goed saam. Plaas die mengsel op twee snye brood. Strooi 'n bietjie kaas oor en maak die broodjie toe.

Vul jou kosblik soos volg aan:
! Pak saam met die broodjie 'n pakkie Safari Trail Mix of jou eie neute of droëvrugte in, probeer bosbessies ("cranberries") hierby insluit.
! Biltong en droëwors is 'n goeie proteïene om aan te peusel gedurende die lang skooldae.
! Pak 'n paar van jou gunsteling vrugte in vir vinnige energie: 'n piesang, 'n perske, aarbeie, druiwe, gesnyde pynappel, ens.
! Gevriesde, gefiltreerde water sal jou koel en gehidreerd hou. Water is belangrik vir jou brein en liggaam, jy sal minder hoofpyn en meer denkvaardighede hê!



Louise Glatthaar

As jy nog nie die kreatiewe plakkate oor Helpmekaar se Groenprojek in die gange gesien het nie, is jy óf blind, óf een van daardie kinders wat altyd afwesig is. Hierdie jaar is die projek selfs groter as rugby, glo dit as jy wil, en Juffrou Susan Keuris, geliefde wetenskaponnie, beplan groot dinge.
Dit is hoog tyd dat Helpmekaar ook “GROEN” raak, want ons kan dit nie ontken nie: die mensdom mors en besoedel asof dit uit die mode gaan. Juffrou Susan het besluit om 'n nuwe mode te begin, 'n groen mode. Almal wat haar ken, weet dat sy redelik passievol kan raak oor 'n saak, en sy is behoorlik besig om iedere Helpie op te kommandeer vir die stryd teen koolstofdioksied en rooivleis.
Nou wonder almal net waar haar passie hiervoor vandaan kom. Hier is dit nou, uit die perd se bek: “Dertien jaar gelede was ek 'n Wiskunde-student by Tukkies met drome om 'n astrofisikus te word. Ek was juis besig met navorsing in Sutherland in die Karoo toe ek op 'n boek afkom wat deur 'n Oosterse Meester, Ching Hai, geskryf is. Haar boek het my laat besef dat elke mens 'n verantwoordelikheid teenoor ander mense en die planeet het. Nie die abstrakte, hoogdrawende geestelike verantwoordelikheid wat net eindig in lippetaal nie, maar 'n praktiese, uitvoerbare verantwoordelikheid wat deel moet uitmaak van jou daaglikse lewe.
“Dit was dus tot-siens-astrofisikus en hallo-wetenskaponnie. Min mense verstaan hoekom mense kies om eerder 'n onderwyser as 'n astrofisikus te word, maar min mense besef dat dit die mees ideale geleentheid is om jongmense konstruktief te beïnvloed.
“Die eerste jare in die onderwys was vir my 'n groot ontnugtering. Dertien jaar gelede wou niemand in Suid-Afrika hoor van globale verwarming of ons 'verantwoordelikheid teenoor die omgewing, diere en die planeet' nie. Die feit dat ek toe al 'n volkome vegetariër (geen vleis, vis, hoender of eiers) was, het al klaar veroorsaak dat ek as 'anders' geklassifiseer is.
Om 'n vegetariër te wees, of om 'groen' te wees, is al lankal mode in Europa, Australië en Amerika. Maar Suid-Afrikaners was nog altyd die laaste nasie op aarde om te verander. As dit nie in 'n blikkie is wat om 'n braaivleisvuur gedrink kan word nie, of as dit nie op 'n Saterdagmiddag oor 'n veld geskop kan word nie, stel min Suid-Afrikaners daarin belang.
“Gelukkig het tye verander en het talle Suid-Afrikaners nou tot die internasionale stryd toegetree om meer 'groen' te lewe. En al doen sommige mense dit omdat 'groen' die nuwe inding is, glo ek die planeet is te dankbaar dat daar wel iets gedoen word.”
Daar het julle dit, en ek glo dat soos met alles, Helpmekaar ook 'n sukses van dié saak sal maak.  

Wednesday, April 21, 2010



David Oberholzer
2010 se eerste krieketseisoen was werklik ʼn opwindende tyd, daar is nuwe vriendskappe gesmee, ou vriendskappe hervestig en versterk asook ʼn paar vriende se ware karakters wat na vore gekom het. By Helpies is krieket meer as net ʼn sport, dis ʼn lewenstyl.
Terwyl jy op die veld staan in die warm, maar tog gemaklike Januarie-son, is daar meer aan die gang as wat voorkom. Die stille stryd van bal en kolf word nooit werklik net deur die twee komponente opgelos nie, maar eerder deur die passie en entoesiasme waardeur die spelers mekaar aanvat, alles in goeie gees natuurlik.
As dit nie genoeg is om ondersteuners te lok nie, kan daar altyd op, en langs, die krieketveld aan ʼn “tan” gewerk word, so voor die wintermaande. Watter meisie wil nie mooi bruin bene hê om mee te spog op die netbal- of hokkievelde nie? Wat uitslae betref, was dit ʼn goeie seisoen vir ons, met die 1stes wat St. Stithians wen (met Ruan Prinsloo se ses van die laaste bal!) – vir die eerste keer in so lank terug as wat die matrieks kan onthou.
Die tweedes het ʼn opwindende seisoen op en af van die veld gehad, soos altyd gekenmerk deur goeie gees. Die matrikulante se persoonlikhede asook goeie leiding gaan werklik gemis word aan die einde van die jaar. Ek los almal met een laaste gedagte: “What is Human Life but a Game of Cricket?” (outeur onbekend).
Gryp dus die geleentheid en maak die beste van jou “innings” en boul die lewe uit dat hy nie weet waar die bal deur is nie!





Liné Meyer
Verskeie Helpies het die naweek van 13-14 Februarie die Midmar-myl gaan aandurf. Ter voorbereiding het hulle elke dag tussen 2 en 10 km geswem - dit maak my moeg net om daaraan te dink!
Adriaan Venter (gr 10) en Corrie Venter (gr 12) het uitstekende tye van so by die 23 minute elk behaal. Gillian Bain, Charné Bellingan, Liesl Olivier en Galena de Jager se tye was almal onder 40 minute en Francois van Graan (gr 8) het die myl twee keer afgelê. Mooi so, julle!
Vooraf moes die swemmers 'n seer Vitamiene B-inspuiting trotseer en sommiges het gou 'n “spike” gesluk vir meer energie voordat hulle in die koue water gespring het. Swemmers wissel hul slae gedurende die myl om moeë spiere 'n blaaskansie te gee. As enige probleem opduik, soos as 'n kramp jou planne in die wiele ry, steek jy net jou een arm in die lug en waai vir hulp.
Swemmers swem in 'wet suits' of swemklere. Volgens my bron het Adriaan min gepak en sommer die hele naweek in sy Speedo rondgeloop.
Die meeste mense swem die myl vir die lekkerte en ander verteenwoordig besighede. Dan is daar die “Eight-milers” wat altwee dae al die resiese swem ten bate van kankerlyers. Die “Sixteen-milers” swem al die resiese twee keer oor die twee dae ten bate van gehoorgestremdes.
Baie geluk aan al die Helpies wat deelgeneem het!

La't Spaan-der op die Meer

Jean le Roux“Daar's niks soos roei nie. Niks anders gee mens dieselfde gevoel van vryheid nie.” So sê Nici le Roux, lid van Helpmekaar se ontluikende roeispan wat hierdie jaar amptelik op die water gebring is. “Dis onbeskryflik; ek kan nie aan 'n ander sport dink wat so onmiddellik aangrypend is soos hierdie een nie," sê Le Roux oor sy eerste twee weke van oefen. Die antieke sportsoort word deur talle topskole in die stad beoefen, en die Helpies beloof om die eenman-scull-klas, tweeman-dubbel-klas en vierman-quad-klas by die skool se tradisie van puik sportprestasies te voeg. Volgens Le Roux is hulle egter vir nou alte bly dat hulle “nog nie in die water geval het nie”. Roeiers oefen Dinsdae, Donderdae en Saterdae.
Nota vir diegene wat belangstel: 'n “scull” is 'n “wrikriem” in Afrikaans.  
Larèt van Niekerk
Ek het vir 'n paar top presteerders by die Goue Liga gevra wat swem vir hulle beteken:
Cornelius Venter (gr 12): Swem is vir my 'n plek waar ek van my “worries” kan vergeet. Dit is lekker om in speedo's rond te loop. Ek wil nie 'n toekoms bou met swem nie, maar dit leer my selfdissipline en dit hou my fiks en in “shape”.
Nicholaas van Niekerk (gr 12): Swem is my passie! Dissipline is ongelooflik belangrik in swem. Partykeer help dit ook net om van my frustrasies ontslae te raak. Dit kalmeer my. Ek wil graag 'n toekoms met swem bou en my grootste droom is om deel te neem aan die 2012 Olimpiese proewe en dan te kwalifiseer vir die Olimpiese Spele in Londen.
Quinton Hoy (gr 12): Swem is 'n spirituele manier om in kontak te kom met jouself. Ek is gebore vir water, en water is waar ek in kontak met my siel kan kom. Asof ek in 'n ander wêreld is, alleen met my gedagtes waar alles duidelik is en sin maak. Hoe ek “relax” en antwoorde kan kry.
Etienne van den Berg (gr 12): Swem is “one part dedication and two parts obsession” vir my! Swem is my rede, liefde en trots. Swem is 'n refleksie van dit waarin ek glo en hard voor werk. Ek “love” dit om te swem, want mense dink ons is mal en “goggle tans” is “cool”. En daar is niks beter as “the smell of fresh chlorine in the mornings” nie. Ek wil 'n toekoms bou met swem en sal graag in 2016 aan die Olimpiese Spele in Rio, Brasilië wil deelneem in die 100m-borsslag.
Adriaan Venter (gr 10): Dit is basies 53% van my lewe. Dit is die ding wat ek goed doen en ek het Helpmekaar toe gekom gedeeltelik a.g.v. my swem. My toekoms in swem is om in Amerika te gaan studeer met 'n sportbeurs en so te kwalifiseer vir die Olimpiese Spele.
Hierdie ouens is maar net 'n handjievol van ons swemmers wat uitgeblink het by die Goue Liga-gala. 'n Uitstekende rondte vir Helpmekaar se goue vissies!

Semoni Cancelliere
& Rèzanne Neethling

Op een van ons Wesrand-busse, Lat'Wiel, het daar onlangs ietwat van 'n fratsongeluk gebeur. 'n Gr. 9- leerder, Rulov Coetzee, het uit die bewegende bus geval. Hy het sy regterduim gebreek, sy knie was nerfaf en sy hele lyf vol kneusplekke.
Hier volg 'n ooggetuie, Lizhane Janse v Rensburg (gr 8) se weergawe van wat gebeur het:
“Ons het pas by die eerste busstop opgeklim en Rulov het voor in die bus reg langs die deur gestaan. Hy was besig om iets uit sy tas te kry toe die bus se deur ewe skielik oopgaan en hy uitval! Die busbestuurder het dadelik gestop. Die verbouereerde gr. 8's het begin skree en party seniors het gedink dit was net 'n grap, maar toe die ander gr. 9's begin hardloop om hom te help, het almal besef dis ernstig.
Heelwat motoriste het gestop om hulp te verleen. 'n Gawe tannie het aangebied om hom hospitaal toe te neem terwyl iemand sy ouers skakel. 'n Gr. 10–leerder, Tiaan Janse van Rensburg, is saam hospitaal toe.”
Rulov het 'n paar dae se skool gemis net om bietjie te herstel, maar is nou terug by ons en voel weer perdfris. Lessie te leer: Sit op jou sitplek, weg van die deur …!
In nog 'n ongeluk van (glo dit maar) 'n Wesrand-bus, het dié se naam weer eens tot sy reg gekom. “Vasbyt” is sekerlik die bus wat al in die meeste ongelukke betrokke was, en hierdie keer het 'n “Wilde Weste”-polisiemotor wat klaarblyklik 'n rooi verkeerslig verontagsaam het, in die bus vasgejaag. Arme Elson se middagroete het in 'n nagmerrie van "die blou gevaar sonder voorkant" ontaard, maar kan julle dink hoe die polisiemotor ná die onderonsie gelyk het …?
Ons hoop van harte dat die res van 2010 seepglad vir al die busse sal verloop, sodat mnr. JP ook so 'n bietjie kan ontspan!