Met 'n baie swaar hart moet ek erken dat dit die begin is van my laaste jaar op Helpmekaar.
Ek sukkel om aan die idee van universiteit en onafhanklikheid gewoond te raak en alhoewel ek opgewonde is, wil ek nie tot siens sê vir die skool op die bult nie. Maar ek skryf nie my eerste redakteursbrief om vir julle van my persoonlike vrese te vertel nie.
Eerstens wil ek sê dat ek baie bevoorreg is om vir die Helpie-flitse te kan skryf, dit was nog altyd 'n droom van my om iets by Helpies agter te laat wat ander mense dalk ook kan waardeer. Daarom wil ek van die geleentheid gebruik maak om 'n paar goed van Helpmekaar uit te lig wat vir my baie beteken het. Die skool is wel vrek koud in die winter, en al die trappe werk maar aan die kuite, en die basher ruik eenvoudig net vreemd, maar tog was ek op my gelukkigste in die bruin gange van Helpies. Noudat my tyd amper verby is, weet ek dat niemand ooit weer so baie geduld met my sal hê soos ons onnies nie (veral juf. Lida, ek dink nie ek was eenkeer betyds vir Wetenskap nie, haha jammer, Juffrou!). Niemand gaan my naam ken soos mnr. König elkeen van ons s'n ken nie. Nêrens gaan daar weer op 'n bus huiswerk gedoen word, of 'n paar goue kaalbolyf-manne ons vermaak nie.
Moet daarom asb. nie jou vyf jaar van slawearbeid en veldskooluniforms wegwens nie, want soos alle goeie dinge moet dit ook tot 'n einde kom, en dit gaan 'n baie hartseer affêre wees, glo my. My goeie vriendin, Lené Luwes, sê gereeld: “Maak dit tel!” en eers in matriek het dit vir my ware betekenis gekry. Maak alles in jou lewe tel - dit is die eerste, die laaste en enigste kans wat jy gaan kry.
Laastens, geniet ons koerantjie, dis deur Helpies vir Helpies geskryf. Ek hoop julle lag lekker en verbeter terselfdertyd julle leesvaardighede wat Juffrou Carol so baie slapelose nagte gee.
Louise
REDAKTRISE: Louise Glatthaar
KERNREDAKSIE: Emma Stander (sosiaal), Larèt van Niekerk (sport), Marthinus Jacobs (kultuur), Rèzanne Neethling (akademie), Nico van der Westhuizen (finansies), Melissa Swart (advertensies).
FOTOGRAWE: Jean le Roux, Adriaan Malherbe, André vd Walt.
PROEFLESERS: Lizanne Bronkhorst, Nerine Gouws, Tineke Harris, Rèzanne Neethling
MEDEWERKERS: Richard vd Merwe, Madaleen Swanepoel, Stefan Olivier, Andreas Oosthuizen, Mia Roberts, Nerine Gouws, Andries Louw, Odette Graskie, Leney Vercellotti, Marelize Roets, Lavelle Riga, Lara Erasmus, Marelize Nel, Tineke Harris, Izelle Taljaard, Liesl Olivier, Semoni Cancelliere, Marli Rossouw, Ané Lombaard, Marlene Roets, Jodi Dyssel, Lori-Jo Bateman, Liné Meyer
KOÖRDINEERDER: Juf. Tertia Minnie
ONTWERP & DRUK: Willem Viljoen