Sunday, July 18, 2010



Die liefde … laat ons nou nie eers begin redeneer oor wat liefde is nie. Die realiteit is dat nie almal 'n fantastiese liefdeslewe het nie… hoërskool is “tough”… raak gewoond daaraan! Kyk, een ding wat ek geleer het, is dat liefde en logika glad nie maats is nie. Maar dit is juis al die romanse, “break-ups”, skandes, kullery, liefdesdriehoeke en natuurlik “hook-ups” wat die lewe interessant maak. 'n Mens kan dae omgesels oor die liefdesintriges by Helpmekaar, want dinge raak hier meer ingewikkeld as in “The Bold and the Beautiful”.

“Goue paartjie” van die termyn:
Hy gee vir haar 'n bos rose en hul liefde sal eers doodgaan wanneer al daardie rose verlep … maar daar is een plastiekroos in die bos! Welkom in die liefdeswêreld van Lloyd Vermeulen en Shirley Adlam wat die 8ste Mei al nege maande uitgegaan het. (Ek meet my verhoudings in weke, so knap gedaan, julle!) Bruin oë soos wat nét sy het, 'n wonderlike persoonlikheid en haar model voorkoms, laat Lloyd se hart tjoklits klop elke keer wanneer hy haar sien. Natuurlik is 'n oop en eerlike verhouding belangrik vir sukses, maar dit is al sy verrassings en lukrake geskenke wat Shirley so breed laat glimlag. Hoeveel keer is jy al Valentynsbal toe gevra op die strand, omring deur kerse terwyl die son sak?

'n Paar ander “goue paartjies”
­­­­­­­­­­­­­­­Luke Smith en Larèt van Niekerk; Marcel Campher en Chanel Steenkamp; David Oberholzer en Lizanne Bronkhorst.

On/Off? :
­­­­­­­­­­­­­­­Boetman Grobler en Carla Schindehutte?

Mmm … potensiële paartjies in die toekoms … ('n match maar hulle weet dit nie … of weet hulle?):
Abrie Grobler en Ingrid Botha
Willem van Rensburg en Karin Neethling
Ruan Prinsloo en Marguerite Bergman
Bertus Nel en Sarie Swanepoel
­­­­­­­­­­­­­­­Jean Joubert (“Chewy”) en Lynn-maré Nigrini
S.M. van Achterbergh en Bianca Winterbach

Hoekie vir die eensame:
­­­­­­­­­­­­­­­Alex du Plooy

Helpies, wanneer dit by die liefde kom, onthou net: “it is so easy to fall in love but so hard to find somebody to catch you!”
(NB: Onthou dat hierdie berig van toepassing is vir die tyd toe dit geskryf is - julle weet hoe vinnig "ewige liefde" kan verander!)

1. Liewe Holderstebolder, ek dink my ou wil my nie soen nie omdat ek draadjies het. Wat moet ek doen?! Ek hou baie van hom en wil nie die verhouding verbreek net oor my tande nie. Van: Anoniem.
Holder sê: Liewe Anoniem, ek beveel aan dat jy jou draadjies so vinnig as moontlik laat afhaal.
Bolder sê: Ek sou sê dat jy nie moet eet wanneer jy by hom is nie - dit is baie onaantreklik as jou ontbytkos teen middagete nog in jou draadjies sigbaar is. NB! Gebruik daardie tussen-die-draadjies tandeborsel soveel as moontlik, anders is daar 'n groot moontlikheid dat hy jou eerste gaan los.
Meneer Stoffel sê: Verander jou draadjies se kleur so dikwels as moontlik sodat jou kêrel ten minste geïnteresseerd bly in die binnekant van jou mond.
2. Hey, ek hou van 'n meisie wat nie in my belangstel nie. Ek het al selfs 'n liedjie vir haar geskryf, maar sy kyk nie eers in my rigting nie! Wat nou? Van: Mismoedige Gr.8.
Holder sê: As sy nie in jou rigting kyk nie, is daar dalk iets anders wat haar interesseer... Miskien moet jy ook in 'n ander rigting draai, dalk vind jy daar geluk!
Bolder sê: Siestog, moenie so negatief wees nie! Vir al wat jy weet, is sy skeel.
Meneer Stoffel sê: Ek beveel aan dat een van julle twee dalk 'n bril moet kry, dalk los dit die visieprobleem op.
3. Aan HB, my “basher” het gebreek nadat 'n paar reëndruppels dit beskadig het en nou het dit 'n gat in. My ma het gesê sy gaan nie vir my 'n nuwe een koop nie, en ek het nie genoeg geld nie. Hoe nou gemaak? Van: “Basherlose” Meisie.
Holder sê: Liewe meisiekind, ek sou sê dat jy dit maar solank so gebreek moet dra, aangesien dit 'n belangrike deel van ons uniform is. Spaar dan intussen al jou sakgeld vir 'n nuwe een. Die gat in die “basher” kan dalk net tot jou voordeel wees, want dit sal help met lugsirkulasie en baie meisies kla dat die hoede vir hulle puisies gee.
Bolder sê: Sien dit as 'n geleentheid! Met 'n groot gat in jou basher is jy gewaarborg om raakgesien te word. Hoe meer aandag 'n mens kry hoe beter, want aan die einde van die dag is jy tog die belangrikste mens in jou lewe. En hoe sê hulle? Enige publisiteit is goeie publisiteit!
Meneer Stoffel sê: Liewe Dogter, al my simpatie! Hierdie is 'n kwessie so dringend dat ek dit in 'n personeelvergadering sal aanspreek.
4. Liefste Holderstebolder, ek het 'n akademiese dilemma. Ek kry so baie huiswerk dat ek tot in die aande baie laat werk, en dus min slaap inkry. In die dag is ek dan so moeg dat ek in die klas aan die slaap raak. Hoe moet ek dit oplos? Van: Moeë en moeilike gr.11.
Holder sê: Werk vir jouself 'n skedule uit en maak seker dat jy net in die onbelangrike vakke slaap, sodat jy uitgerus is vir die belangrikes.
Bolder sê: Vat 'n blaaskans (slaapkans)! 'n Daggie of twee se verlof het niemand nog ooit skade aangedoen nie. Gebruik die voordeel as julle 'n vriend het wat 'n huisdokter is sodat hy of sy vir jou 'n briefie kan skryf ('n sjirurg is nog beter – dan kyk jy sommer na 'n paar weke af!). Dink slim en gebruik jou kontakte.
Meneer Stoffel sê: Kies vir jouself elke dag een vak waarvan jy nie die huiswerk gaan doen nie. Op hierdie manier sal dit 'n paar weke neem voordat jou ouers gekontak word.
5. Holder en Bolder, ek en my suster baklei aanhoudend. Sy is irriterend, voor op die wa en luister nooit na my nie. Wat moet ek doen?! Van: Groot Suster.
Holder sê: Fisiese geweld kan 'n vinnige oplossing wees en sy sal gou na jou luister. As jy nie 'n wintersport beoefen op die oomblik nie, kan die bakleiery dalk net goed wees vir jou! Onthou net asseblief om nie in die openbaar met haar te baklei as jy jou skoolklere aan het nie, op daardie manier gooi jy net jou eie naam weg en nie ook die naam van die skool nie. (Of trek 'n ander skool se uniform aan, byvoorbeeld Randburg, dan kan julle na hartelus baklei, en selfs in 'n vuisgeveg betrokke raak.)
Bolder sê: Solank jy heeltyd die “fight” wen, is dit OK! Families baklei maar soms … maar, sodra dit lyk asof jy die “fight” begin verloor, is dit belangrik om jou tegnieke te hersien, bv. skree harder. Om te wen is altyd alles, en op daardie manier sit jy haar in elk geval op haar plek.
Meneer Stoffel sê: Meisies is baie sensitief oor persoonlike geheime, wees slim en verklap dalk 'n paar daarvan. Sy sal vir lank nie met jou wil praat nie, en dan baklei julle ook nie meer nie. 
Simpel sêgoed uit Die groot grapboek deur Andries Brink:
Ek was gisteraand so dronk, toe ek vanoggend wakker word, toe hang ek oor die stoel en my klere lê in die bed.

Jy's so skeel jy kyk jouself diep in die oë.

Hy is so kort hy weet nie of dit keelseer of aambeie is nie.

Ek sit nou so lekker ek staan sommer op en sit weer.

Ons kan nie almal helde wees nie. Iemand moet langs die pad staan en hande klap.

Vir die sportiewes, ook uit Die groot grapboek deur Andries Brink:

In Afrika het sommige stamme die gewoonte om die grond met kieries te slaan en dan bloedstollende gille te los. Volkekundiges noem dit 'n primitiewe manier van selfuiting. In Amerika noem hulle dit gholf.

Die dom, blonde rugbyspeler staan ná 'n wedstryd onder die stort met 'n sambreel. “Hoekom doen jy dit?” wil 'n spanmaat weet. “Omdat ek my handdoek by die huis vergeet het.”




Helpmekaar het hierdie jaar 'n enorme taak aangepak… Die ATKV-Redenaarskompetisie 2010 is op 16 en 17 April vir die eerste keer by Helpmekaar Kollege aangebied. Sprekers van Gauteng het in hul massas opgedaag om die beoordelaars van hul standpunt te oortuig.
Dit was 'n groot taak wat Juffrou Peacock met BAIE entoesiasme aangepak het. Die gaste was in hul skik met hoe die Helpies hul ding doen op kultuurgebied, asook die vriendelikheid waarmee ons hul ontvang het. Daar was natuurlik 'n paar krisisse wat blitsvinnig opgelos moes word, maar met die vele hande wat kom help het die naweek was dit sommer ligte werk.
Natuurlik het daar Helpie-sprekers ook deelgeneem en hulle het puik gevaar. Daar het sewe Helpies deurgedring na die tweede rondte van dié kompetisie. Baie geluk aan Konstant Beckerling, Hildezahn Hay, Stiaan Krause, Lisa Strydom, Marcel Porteus, Stefan Olivier en Drikus Conradie. Hierdie bekke (of dalk bekkies) moet beslis jêm kry!
Die tweede rondte van hierdie wonderlike kompetisie, waar elkeen 'n kans kry om sy of haar mening te lug, vind plaas op 30 Julie. Helpmekaar is weer die gasheerskool en ons is oorgehaal om weer eens puik te vaar.

Alexander Gregg het eens gesê:
There are three things to aim at in public speaking: first, to get into your subject, then to get your subject into yourself, and lastly, to get your subject into the heart of your audience!
Ja, ja ... ons is mos Hoërskoolkinders - vir wat sal ons nou na 'n animasie-film gaan kyk?! Maar as jy hierdie fliek misloop, kan jy netsowel jou brein vir mediese navorsing skenk – hulle sal beslis meer nut daarvoor hê!
How to Train Your Dragon is 'n heerlike ervaring en daar is oorgenoeg parallelle met ons eie tienerwêreld om dit skop te gee. Hiccup (die hoofkarakter) woon tussen woeste Vikings waar gespierde bolywe status bring. Al is hy die hoofman se seun is hy 'n nikswerd in sy mede-Vikings se oë, want hy is swak, skraal en slim (soort van 'n Bill Gates-geek tussen die reuse).
Hiccup se pa besluit hy gaan beter inpas as hy nes die ander mans in sy dorpie 'n draakvegter word. As hy dan uiteindelik tog 'n draak vang, het hy bloot nie die hart om dit dood te maak nie. Die twee word vriende en Hiccup maak 'n besondere plan om die beseerde draak weer te laat vlieg.
En so beleef ons Hiccup se ontwikkeling vanaf 'n onbeholpe seun tot 'n dapper held wat besef sy grootste bate lê juis in sy anders-wees. Hy leer sy mense om met nuwe oë na die wêreld te kyk, en diep onder die prettige storie is daar sommer ook 'n anti-geweld, anti-oorlog boodskap versteek.
Die 3D-animasie is uitstekend en 'n mens sien veral die ontwikkeling van hierdie medium aan hoe karakters se hare elkeen individueel beweeg. Die plantegroei is ook nie bloot 'n groen massa nie, maar bestaan uit 'n magdom verskillende plante en bome.
How to Train Your Dragon sal almal van 8 tot 88 vermaak – dis nou natuurlik as jy die humor daarin kan sien: Breinkrag hou, terwyl spierkrag vou!

Ons is eerste in die ry, voorbarig en beterweterig. Ons is die Voortrekkerlede hier by Helpmekaar. Ons is: Chris, Timothy, Vincent, Marthinus, Lynette, Anja en Emma.

Ons jaar het afgeskop met 'n kommandokamp in die boendoes naby Magaliesburg. Dit het katte en honde gereën, maar ons het nuwe lede ingelyf, geroei, geswem, water gesluk en weggespoel. Party van ons (soos Marthinus, Vincent en Chris) het net gemuf, maar ander soos Lynette het fotografie bestudeer.
In die Maart/April-vakansie was dit tyd vir die streekskampe. Vincent moes die Selfbehoud-kursus by Roodeplaatdam verduur – die Voortrekkers se eie weergawe van “Survivor”. Daar het sy groep geleer om op hulself en op die natuur staat te maak vir oorlewing. Vince het na bewering selfs 'n haas gejaag - en ingehaal - om aandete te verseker. Chris se “Selfbehoud” by Lunsklip in die Limpopo-provinsie was slegs vir 'n elite-groep wat hulself tot die uiterste in die veld getoets het - 'n regte “Survivor All Star”.
Marthinus het weer eens weggespoel by Thaba waar hy aspekte van kampkommunikasie en -beveiliging bestudeer het. Hulle groep moes te alle tye paraat wees en “slagoffers” gedurigdeur van 'n swetterjoel denkbeeldige rampe red, hetsy groottes, soos brande, of kleintjies, soos slange. Lynette het soos 'n wafferse Lara Croft verskillende vuurwapens leer hanteer. Jag- en Wildbeheer was ook deel van haar kursus.
Tussenin was daar nog 'n nagmars by die Sammy Marks-museum, waar ons almal deur moddervleie agter 'n 'moordenaar' aan geploeter het.
Dus was ons kampe baie besig, maar totaal relevant en lekker!
As jy belangstel om êrens te kom in die lewe, kontak gerus:
Leanie Taljaard: 083 345 2293; leanie.taljaard@gmail.com
of besoek: www.voortrekkers.org.za

Marthinus Jacobs het 'n besondere prestasie behaal deur as lid van die Gebiedsjeugraad van die Voortrekkers verkies te word. Daar is maar ses hoërskoolleerlinge op dié Raad wat oor die hele ou Transvaal-gebied leiding neem. Hartlik geluk en sterkte vir die groot taak!


Bonjour! Bien venue! Enchanté!

Met 'n soen op elke wang is ons die Franse vreemde binne. Uit 'n warm Suid-Afrikaanse somer, is die Franse lente met maksimum temperature tussen 8 en 14 grade nie iets waaraan ons gou gewoond kon raak nie, maar dit was net 'n klein spoedhobbeltjie van die Franse Uitruil van 2010.
Met die aankoms op Charles de Gaulle het ons vier dinge vermis:
- Marianne Stols
- Gabri se tas
-Afrikaanse/goeie Engelssprekende mense
- Sonskyn
Na baie verwarring en 'n geskarrel, het ons Charles de Gaulle verlaat en gery na die plek waar die herinneringe vir ons sou wag.
Die skool, St. Nicolas, is in 'n ou dorpie in die buitewyke van Parys. Die plaaslike bakker (Boulangerie) en die kafee (Marche Franprix) was slegs twee van ons vele prioriteite gedurende die drie weke wat ons in die koshuis gebly het, met dekadente versnaperinge soos Macarons, Pain du Chocolat, Chauccettes en Vanilla of Cherry Coke.
Die Parisiens (inwoners van Parys) is seker van die fiksste mense op die planeet. Hulle sal die 15 km in die Walk the Talk in 15 min kan loop! Met die hoeveelheid besiens-waardighede in Parys is dit beslis nodig om so vinnig te kan loop. Daar is soveel om te sien: van die Louvre tot die Arc de Triomphe, die bote op die Seine-rivier, die Notre Dame, die Impressioniste Museum, die Eiffeltoring en die Galleries Lafayette!
Oor naweke is ons hartlik verwelkom in ons Franse korrespondente se tuistes. Hulle het ons op uitstappies geneem na meeste van die beroemdste monumente, geboue en landskappe.
Ons was so bevoorreg om 'n besoek aan Victor Hugo, die skrywer van Les Miserables, se huis te maak. Die Sacre Coeur het die romantiek van Montmartre gedefinieer. Versailles, Fontainebleau en die Saint Chapel het ons heeltemal in verwondering laat staar.
Tussen al die opgewondenheid deur het ons ons Frans verbeter, omdat niemand regtig goed Engels kon praat nie. Om iemand in Frans te oortuig dat African en South African twee verskillende konsepte is, is nie baie maklik nie!
Dit was lekker by die skool, maar ons het so gewens om net een week vakansie te kon hê ... Toe vind ons uit die gesegde “wees versigtig waarvoor jy wens, jy kan dit dalk net kry,” is nie n bangmaakstorie nie. BOOM! en toe is al die vlugte vertraag as gevolg van die vulkaan in Ysland met 'n naam wat niemand kan uitspreek nie.
Die laaste week het die verlange hoog geloop en was almal eers negatief en hartseer, maar tot ons geluk het dit baie lekker verloop! Ons het ons midde-in 'n geskiedkundige gebeurtenis bevind en het die beste van elke oomblik gemaak. Ons het onsself verkyk aan die mooiste tuine, ons laaste bietjie geld spandeer en geleer wanneer grappies regtig snaaks is.
Die toeriste-aantreklikhede en die uitstappies was wonderlik, maar op die ou einde was dit die klein dingetjies wat ons reis onvergeetlik gemaak het. Die soek na 'n warm plek om jou tone te ontdooi, die gejaag om die trein te haal, die drukkie wat jou beter laat voel as jy verlang en die giggeltjies en grappies wat 'n koue lentedag kon verhit.
Dit was 'n ervaring wat almal eendag moet ervaar … om nuwe mense te leer ken, nuwe kulture te ervaar, om van die beroemdste kunswerke, beelde en geboue te besoek en ook om ou vriende beter te leer ken.
Gabri die bokkie, Mia die praterige, Marelize die besige, Rosanne die kleintjie, Stefan die Fayen-gunsteling, Michiel die hartebreker, Odette die oulike een, David die kenner, Lavelle anti-McDonalds en Lizanne die aandag-afleibare: Ons is die Frankryk Uitruil van 2010!! ONDER: Odette Graskie en Marelize Roets.


SA-Skole Atletiekspan



Mnr. Carel Freysen het die tennisseisoen laat afskop met die gewone uitspeelwedstryde op UJ se bane. Al verskil was dat daar by hierdie uitspeeldag meer as 70 seuns opgedaag het. Arme meneer Freysen! Gelukkig is dié meneer 'n boffin met wiskunde, en kon hy met gemak al die seuns se tellings op een slag hanteer.
Met die wete dat slegs 34% van al die seuns wat opgedaag het in die span sou kon wees, was die kompetisie sterk. Al die seuns wou span maak. Van die baan af het sommige seuns gespot en gesê: “Ag, ek speel sommer maar net vir die fun! Ek gee nie regtig om of ek span maak nie.” Maar op die baan kon 'n mens duidelik sien dat hulle eintlik vir ons 'n wit leuentjie vertel het.
Met die span gekies, kon die liga amptellik begin. Met elke wedstryd sit die tennisseuns om 13:55 reg om bus toe te nael. Eers as almal in die bus is, op pad na die skool waarteen ons gaan wen (speel), bedaar hulle en trek rustig hul tennisklere op die bus aan. Die bus is gewoonlik die plek waar ons die meeste vir mekaar lag! Daar raak ons gou verveeld, en begin aan unieke maniere dink om onsself te vermaak.
Te danke aan juffrou Cindy Marais en meneer Carel Freysen, kon hierdie tennisseisoen sonder enige probleme verloop. Ons sien uit na nog 'n lekker kwartaal van seunstennis hier by Helpmekaar!

Robotix is 'n redelike nuwe sport hier op die hoek van Empire en Jan Smuts. En ja, dit kwalifiseer as 'n sport omdat jou grysstof en hande vreeslik baie oefening kry. Ek het 'n draai by Karel Olivier in gr. 10 gaan maak om meer uit te vind van die sport. “Robotix - wel dit gaan daaroor om 'n robot te bou en om dan daardie robot te programmeer om te doen net wat jy wil hê hy moet.”
“Op die oomblik is ons so tien kinders in die klas en mnr. Sean Barber is ook 'n kranige robotix-boffin. Robotix is vir enige iemand wat ingenieurswese wil gaan swot. Omtrent almal wat daaraan deelneem, wil graag in daardie rigting ingaan.” Karel sê dat ingenieurstudente in hulle eerste drie jaar ook robotte met legoblokkies bou en dan programmeer.
Al die robotix-bouers sien vreeslik uit na Septembermaand, want dan is daar 'n groot robotix- kompetisie in Suid-Afrika waaraan hulle wil deelneem as hul hard genoeg werk. Ons wens ons robotix-boffins alle voorspoed toe met die nuwe sport!

Altans, dit is wat ons Junior A-span trots kan uitroep. Hulle het hul teenstanders uitgestof om so die Junior liga te wen, met Northcliff tweede, Kings School derde en Linden vierde. Baie geluk, julle!
By die proewe al het dié jong spannetjie belowend gelyk met twee van laasjaar se spelers, wat nog as juniors beskou kan word en 'n horde nuwe talent onder ons st. 6'ies. Na 'n gespook op die bord en baie kopkrap deur juf. Melani is die span gekies: Eljeanie Wilke; Marlene Roets; Francois Olivier; Constant Beckerling. Die B-span, oftewel die Capablanka-span, is Werner Wildenboer; Clara Beckerling; Suné Janse van Rensburg en Bendrei Vlok. Die spanne is net betyds vir ons eerste wedstryd gekies.
Hierdie junior skaakspanne het skole soos Linden, Northcliff, Kings School en De la Salle aangedurf in die liga en telkens sukses behaal. Groot was hul vreugde toe die finale uitslae kom en hulle eerste staan!
Die seisoen is egter nog nie verby nie; inteendeel, ons seniors begin nou maar eers. Hulle het al een wedstyd agter die rug. Die span is Stefan Enslin; Chris Pretorius; Jurgen Hanekom; Marlene Roets; Eljeanie Wilke; Karel Olivier; Francois Olivier; Adriaan Botha en met Werner Wildenboer as reserwe. Hulle het De la Salle 14½-3½ geklop en dit boonop nog voor die span gefinaliseer is!
Ons hoop om nog groot dinge van die Senior skaakspan van 2010 te hoor. Ons hou duimvas vir julle!
Hou hierdie besoekers dop ... hulle kompeteer vir die goue sokkerstewel*

Didier Drogba
Drogba is bekend as een van die mees gevreesde voorspelers in die moderne spel. Hy is die kaptein van Côte d'Ivoire (Ivoorkus) se span en speel ook vir Chelsea. Didier Drogba is onlangs aangewys as een van TIME-tydskrif se 100 mees invloedryke persone in die wêreld. Hy dra nie net die hoop van sy nasie op sy skouers nie, maar ook dié van die hele Afrika-kontinent.

Ballack
Hy is die kaptein van die Duitse span (een van die gunstelinge om te wen) en die regterhand van die afrigter, Loew. Ballack dwing respek by sy eie span en ook opponente af omdat hy altyd die belangrikste doele van die wedstryd aanteken. Baie Duitse meisies dink ook dat Ballack een van die aantreklikste sokkersterre op die veld is, maar ek weet nie so mooi nie!

Wayne Rooney
Wayne Rooney is aangewys as die FIFA-sokkerspeler van 2010. Hy speel voorspeler vir Engeland en vir Manchester United. Rooney het 'n humeur wat vir niks skrik nie en hy is baie kompeterend, maar hy is Engeland se grootste hoop vir die toernooi.
* Die mees suksesvolle doelskieter van die toernooi kry 'n goue sokkerstewel as prys.

“Daar is, God weet dit, vreugde in water en lig.” Hier stem ek ten volle saam met T.T. Cloete, en ons Groenklub-ekspedisie kan die stelling beslis bewys!
Nog effens vreemd vir mekaar kom twaalf kinders en mnr. Anduraine Lindeque die Saterdagoggend bymekaar. Sakke word ingepak en die bussie gelaai, reg om die lang rit aan te durf. Vir twee dae op die pad is liedjies gesing, grappies en stories vertel, tydskrifte gelees en speletjies gespeel, totdat ons uiteindelik die bestemming in Namibië bereik het.
Opgewonde en vol energie het ons die water aangedurf. Onafhanklik van die res van die wêreld en direk blootgestel aan die wonders van die aarde, het ons vir 'n paar dae gelewe. Die natuur praat met ons op duisende maniere, ons moet net ons oogklappe afhaal en met konsentrasie luister.
Ver afstande is geroei en uitgeput was ons beslis, maar elke dag se nuwe landskappe, uitdagings by die stroomversnellings en die heerlikste kossies het elke kilometer die moeite werd gemaak.
Wanneer ons die regte plekke op die oewer bereik het, het ons afgepak en vir die aand gekamp, maar die pret het beslis nie daar opgehou nie. Lywe is vol modder gesmeer, daar is op rotse en in grotte geklouter, kaartspeletjies gespeel, rondgehardloop en foto's geneem, om die vuur gesels en elke liewe oomblik geniet.
As die moegheid ons oorval het, is die slaapsakke nadergetrek en het ons gelê en sterre kyk totdat ons ingesluimer het, of daar is sommer by die selfopgeslaande tente ingekruip.
Gelukkig vir ons was Aprilgekkedag ook in die Groenklubweek! Almal het saamgestaan om Meneer te flous. Nadat die poets gebak is (en Meneer kalmeer het), kon ons dit neerskryf as een van ons vele herinneringe.
Dit was vir ons almal baie snaaks dat die enigste twee seuns wat saamgegaan het, die eerstes was om hul bootjies te laat omval! Dit was maar een van die hoogtepunte, want ons malheid en genot kon nie getem word nie.
Op die water het ons watergevegte gehad, die natuurskoon bewonder, ge-“nappy-ride” en vir ure lank spiere gebou. Op vaste land het ons berge uitgeklim, geëet, gerus en mekaar leer ken, maar een ding is verseker - als wat ons gedoen het, maak deel van 'n tyd wat ons vir ewig sal onthou.
Dit was vir ons 'n voorreg om so 'n spesiale tyd in die natuur te kon deurbring, want die natuur is die lewende, sigbare kleed van God. Ons kon ver stap tot op hoë heuwels en berge, in die oggende wakker word met die son wat oor die water weerkaats, ons kon skapies, bokkies, perde en wilde bobbejane in die berghange raaksien en hoor, onsself skoonmaak met slegs bio-afbreekbare stowwe, rondbeweeg met net ons eie krag, roeibootjies en roeispane, en in die aande onder die maan en sterre aan die slaap raak.
Ek dink ons het almal teruggekom as nuwe mense, met nuwe vriende, nuwe idees van die wêreld om ons, hope inspirasie en moeë lywe. Ek hoop dat elke kind in die skool ook nog so geseën sal word met die Groenklub of 'n soortgelyke avontuur!



Gauteng Netbal



Op Sondag 2 Mei het 'n groot klomp geesdriftige Helpies aan 'n bergfietswedren by die Wieg van die Mensdom deelgeneem. Hierdie wedren is individueel voltooi oor 'n afstand van 45 km. Daar het 26 leerders per graad deelgeneem en Gino Galetti het eerste oor die rooistreep gesnel.
Die rit was rof en uitdagend, maar die moeite werd. By 20 km was daar 'n ruspunt waar die uitgeputte deelnemers kon afklim. Die eerste 20 km was glo vreeslik klipperig en jy moes baklei om bo-op jou fiets te bly. Die res van die rit het die roete darem al makliker geword.
Fietsry is 'n sport wat jou uithouvermoë op die proef stel, baie voorbereiding verg en beserings veroorsaak. Dit laat jou adrenalien vinniger pomp, jou hartklop versnel en jou na jou asem snak. Al die wedrenne vind in reservate plaas in Junie, Julie en Augustus.
Die Helpie-fietsryers het pragtige nuwe uitrustings gekry. Dit was klaarblyklik 'n lang proses om die perfekte uitrusting te skep, maar tog die moeite werd, want nou kan jy gaan trap en jaag sonder om te wonder of jy eksie-perfeksie lyk …

Rèzanne Neethling

Die Helpie-ruitersportspan het in drie jaar 'n duidelike metamorfose ondergaan van slegs drie ruiters in 2008 wat gegroei het tot agt in 2010 – en nog 'n hele rits aspirant-ruiters wat nie kan wag om volgende jaar aan te sluit nie!
Met twee kwalifiserende uitdunne reeds agter die rug, maak die Helpies reg vir die laaste twee sodat daar skoonskip gemaak kan word om uiteindelik 'n plek in die finaal te verseker. Strawwe kompetisie is weereens ons dapper span se voorland, aangesien Helpmekaar in die Sentraalliga deelneem – die sterkste liga binne die provinsiale grense.
Veelsydigheid ontbreek beslis nie by dié klompie nie, want daar is 'n ruiter of meer by byna elke dissipline ingeskryf, hetsy showjumping, dressage, equitation, working riding, performance riding of working hunter. Ek is in die bevoorregte posisie om as spanbestuurder vir Chanté Göbel, Eduané Neethling, Stephan Janse van Vuuren, Konrad du Plessis, Lecia du Plessis, Lise Potgieter en Suné van der Westhuizen op te tree, en daar kan groot dinge te wagte wees wanneer die Helpie-perde en hul ruiters op die 16de Mei skole soos Beaulieu die stryd aansê.
Alhoewel ruitersport maar onvoorspelbaar is, het die Helpies tot dusver daarin geslaag om drie 1ste plekke, drie 2de plekke, 'n derde, vierde en vyfde plek in te palm in klasse wat meestal meer as 40 deelnemers insluit.
As jy nog altyd 'n weddenskap wou waag op 'n ruiter-perd-kombinasie nes die grootbase by geleenthede soos die July doen, is dit nou jou kans. 'n Ieder en 'n elk kan die Helpie-ruitersportspan dophou op Sanef Schools se webtuiste (www.sanefschools.org.za) en sodoende aan hul 'n hupstoot besorg wanneer jy fiktiewelik jou geld op iemand wed ….“put your money where your mouth is!” – so uit die Helpie-perde se bekke!.
Lara Erasmus

St John's College het vanjaar hulle 15de rugbyfees tydens die Paasnaweek gehou, die bekende Easter Rugby Festival. Die byeenkoms is definitief 'n prioriteit op elke rugbyspeler se sportkalender.
In totaal het elf hoërskole teen mekaar gespeel, gróót name soos Affies, Hoërskool Nelspruit, Outeniqua, Jeppe Boys, Paarl Boys en Paul Roos Gimnasium.
Helpmekaar se eerstespan se eerste wedstryd was teen die baie sterk span van Paarl Boys. Nadat hulle 23 – 3 agter was, het Helpmekaar teruggeveg en drie uitstekende drieë gedruk. Paarl Boys moes hard baklei om uiteindelik met 26 – 18 te wen. In hulle tweede wedstryd het Helpmekaar 22 - 18 afgereken met die FNB-uitnodigingspan. Die laaste wedstryd was 'n klipharde stryd teen die gedugte span van HS Nelspruit. Die wedstryd het uiteindelik gelykop geeïndig met 7 punte elk.
Die Helpie-afrigter, mnr. Gert Lindeque, was baie in sy skik met die toernooi. "Dit is wonderlike blootstelling vir Helpierugby omdat hulle hulleself teen ander top rugbyskole kan meet," reken hy. Die span het ook die kans gekry om saam met die afrigters op die skoolgronde te bly.
Asof een fees nie genoeg is nie, het King Edward VII net hoër op in die straat oor dieselfde naweek ook 'n hokkie- en rugbyfees gehou, sowel as St Stithians. Strome sportliefhebbers het die straat op- en afgeloop om rugby te kyk. Tieners by die honderde was daar, meisies in mini's en seuns in Supergas. Alhoewel die weer nie van die beste was nie en die looparea om die veld 'n modderpoel, het dit nie die rugby belemmer nie. Daar was ook oud-Helpies in hulle rugbytruie om ons span te ondersteun.

Die netbal- en hokkiemeisies speel hierdie seisoen met nuwe klere en almal stem heelhartig saam dat dit pragtig en prakties is. Juff. Linda Peacock en Tanith von Mayer was betrokke by die beplanning en organisering van die nuwe drag.
Die meisies hou daarvan omdat dit soveel anders as die voriges is en nie so baie soos skoolklere lyk nie. Die nuwe uitrusting is 'n wit moulose hemp met "Helpmekaar" in bruin gedruk op die bors, 'n sjokolade-bruin broekrompie en die hokkiemeisies dra die bruin rugbykouse met geel strepe daarby. Al die meisies is bly dat hulle nie meer moue sal brand en ná die tyd moet sukkel om van hulle "boere-tan" ontslae te raak nie. Hulle sê ook dat die nuwe klere gemaklik is om mee te speel.
Dis goed om te weet die spelers, onderwysers en hoof is tevrede met die eindproduk – dit was 'n baie goeie idee om dit te verander en 'n reusesukses.