Thursday, April 22, 2010

Koshuiskos is kwaliteit


Ané Lombaard
Vandag skok ek die skool met die volgende aankondiging. . . Koshuiskos IS eintlik lekker!
Agter die skerms werk 'n wonderlike span wat bestuur word deur ons eie Tannie Chantel, onder andere Connie, Betty en Pinky. Van “steak en chips” tot hamburgers op Vrydae - daar is niks wat hulle nie kan maak nie. Die koshuiskinders word dag na dag bederf met die lekkerste etes en tweedepouses kan die “dailies” in ons vreugde deel.
Die algemene etes vir 'n koshuiskind lyk so:
Ontbyt: Eiers met amper elke oggend 'n vleisie by, roosterbrood, 'n verskeidenheid graankosse en vrugte.
Middagete: Aartappelskyfies, met vark-/skaap-/beesvleis en lekker gekookte groente. Donderdae eet ons poeding wat gewoonlik jellie met vla is.
Aandete: Elke aand eet ons 'n ander smaaklike gereg, byvoorbeeld lasagne of pastei. Daar is altyd variasie sodat ons nie verveeld raak nie.
Daar is klaar gepraat van kos, maar wat drink ons? Oros, oros en, wag daarvoor . . . Oros! Tog raak ons nie moeg vir hierdie oranje koeldrank nie, dit bly net lekker.
Ons wil baie dankie sê aan die spesiale vroue wat ons koshuiskinders so goed versorg – hulle maak meer as honderd en vyftig etes per dag, vyf dae per week!
Nou ja, nou weet julle die koshuisetes is kwaliteit. Gaan bespreek gerus by die Finansiële Kantoor, dis net R25 per ete.