Wednesday, April 21, 2010



David Oberholzer
2010 se eerste krieketseisoen was werklik ʼn opwindende tyd, daar is nuwe vriendskappe gesmee, ou vriendskappe hervestig en versterk asook ʼn paar vriende se ware karakters wat na vore gekom het. By Helpies is krieket meer as net ʼn sport, dis ʼn lewenstyl.
Terwyl jy op die veld staan in die warm, maar tog gemaklike Januarie-son, is daar meer aan die gang as wat voorkom. Die stille stryd van bal en kolf word nooit werklik net deur die twee komponente opgelos nie, maar eerder deur die passie en entoesiasme waardeur die spelers mekaar aanvat, alles in goeie gees natuurlik.
As dit nie genoeg is om ondersteuners te lok nie, kan daar altyd op, en langs, die krieketveld aan ʼn “tan” gewerk word, so voor die wintermaande. Watter meisie wil nie mooi bruin bene hê om mee te spog op die netbal- of hokkievelde nie? Wat uitslae betref, was dit ʼn goeie seisoen vir ons, met die 1stes wat St. Stithians wen (met Ruan Prinsloo se ses van die laaste bal!) – vir die eerste keer in so lank terug as wat die matrieks kan onthou.
Die tweedes het ʼn opwindende seisoen op en af van die veld gehad, soos altyd gekenmerk deur goeie gees. Die matrikulante se persoonlikhede asook goeie leiding gaan werklik gemis word aan die einde van die jaar. Ek los almal met een laaste gedagte: “What is Human Life but a Game of Cricket?” (outeur onbekend).
Gryp dus die geleentheid en maak die beste van jou “innings” en boul die lewe uit dat hy nie weet waar die bal deur is nie!