Sunday, July 18, 2010

Ja, ja ... ons is mos Hoërskoolkinders - vir wat sal ons nou na 'n animasie-film gaan kyk?! Maar as jy hierdie fliek misloop, kan jy netsowel jou brein vir mediese navorsing skenk – hulle sal beslis meer nut daarvoor hê!
How to Train Your Dragon is 'n heerlike ervaring en daar is oorgenoeg parallelle met ons eie tienerwêreld om dit skop te gee. Hiccup (die hoofkarakter) woon tussen woeste Vikings waar gespierde bolywe status bring. Al is hy die hoofman se seun is hy 'n nikswerd in sy mede-Vikings se oë, want hy is swak, skraal en slim (soort van 'n Bill Gates-geek tussen die reuse).
Hiccup se pa besluit hy gaan beter inpas as hy nes die ander mans in sy dorpie 'n draakvegter word. As hy dan uiteindelik tog 'n draak vang, het hy bloot nie die hart om dit dood te maak nie. Die twee word vriende en Hiccup maak 'n besondere plan om die beseerde draak weer te laat vlieg.
En so beleef ons Hiccup se ontwikkeling vanaf 'n onbeholpe seun tot 'n dapper held wat besef sy grootste bate lê juis in sy anders-wees. Hy leer sy mense om met nuwe oë na die wêreld te kyk, en diep onder die prettige storie is daar sommer ook 'n anti-geweld, anti-oorlog boodskap versteek.
Die 3D-animasie is uitstekend en 'n mens sien veral die ontwikkeling van hierdie medium aan hoe karakters se hare elkeen individueel beweeg. Die plantegroei is ook nie bloot 'n groen massa nie, maar bestaan uit 'n magdom verskillende plante en bome.
How to Train Your Dragon sal almal van 8 tot 88 vermaak – dis nou natuurlik as jy die humor daarin kan sien: Breinkrag hou, terwyl spierkrag vou!