Monday, May 3, 2010

'n Eerbare dood is beter as 'n oneerbare lewe, en 'n meer opregte en eerbare mens as Estan het ek nog nooit ontmoet nie. Ek dink die hele hemelryk is opgehelder met slegs Es se teenwoordigheid daar, want hy het elkeen van ons wat hom geken het, se lewens opgehelder met sy blonde kop, blou oë, sprankelende persoonlikheid en sonskyn glimlag. Al wat ons eendag na die Hemel kan saamneem, is dit wat ons op aarde uitgedeel het, en dis hoe ek verseker kan weet dat Estan nou omring is deur alle liefde, geduld, respek, geloof en ontelbaar baie glimlaggies, drukkies en vriendelikheid. Estan, ek en almal anders mis jou so verskriklik baie! Elke keer as ons iemand sien met hare helderder as die lig, oë blouer as die see, en 'n glimlag wat strek tot in die diepste punte van jou hart, dink ons aan jou, en hoe 'n pragtige engeltjie jy nou is... Die dood is nie die afskakeling van die lig nie, dit is net die uitblaas van die lamp omdat die dag gebreek het. Vir ons op aarde was Estan se dood die einde, maar vir hom, is dit nog net die begin. xoxox. - Nerine Gouws (gr 11)
"I wanna see the broken hearts find a hope in God above, I wanna know I'm doing all I can. So with this life, with all I am, no matter what the cost may be, I pray to see Your love become our cause. I won't stop believing." Ek glo dat dit Estan se gebed was en dit is beslis hoe ek hom sal onthou. 'n Persoon wat deur sy eie hartseer en pyn tyd gemaak het vir ander en altyd sy liggie laat skyn het. Altyd 'n sprankelende glimlag gegee en die styfste drukkies uitgedeel. Sal nooit sy lag vergeet nie. Hy sal ewig in ons harte en herinneringe bly. Dankie vir al die memories Es... Sien jou eendag weer. - Lana Basson (gr 12)
Estan: Jy was my eerste liefde en beste vriend vir 2 jaar. jou stem is stil, maar ons herinneringe sal nooit stil wees in my hart nie. Ek mis jou baie, maar het vrede in my hart, want ek weet jy is by Jesus vir wie jy altyd so lief was. - Kayli de Wet (gr12)
Estan was 'n amazing vriend en vir party mense 'n broer. Hy het my lewe ongelooflik omgedraai en het my die beter deel van die lewe gewys. Es, jammer ek kon dit nie persoonlik sê nie, maar ek is lief vir jou! - Jean Bester (gr 12)
Alhoewel ek hom nie persoonlik geken het nie, sal ek hom altyd onthou as iemand wat 'n ware ambassadeur vir Jesus was en als met 'n glimlag aangepak het. - Rezanne Neethling (gr 10)
"No one is in your life by accident, as a punishment or a trial to be endured. Everyone is in your life with a specific goal and lesson to be learnt ... Our lesson is to learn and teach God's love." Dankie dat jy ons geleer het hoe om ander lief te hê soos God ons liefhet. - Stefan Olivier (gr 11)
Drikus Conradie
"Daar kom gróót verwikkelinge," sê Francois van der Merwe, leier van die Time-Out band wat die byeenkomste open met lofprysingsliedjies. Net soos wat Time-Out die afgelope paar jaar gegroei het, van waar dit in 'n klaskamer begin het tot waar daar nou elke Donderdag ongeveer 140 leerders vir 'n halfuur lank saam die Here se Naam loof, is die band ook besig om te groei. Die probleem is dat die oorspronklike musiekmakers nou die einde van hulle skoolloopbaan bereik en dus moet daar nuwe leerders gewerf word sodat die tradisie sal kan voortgaan.
Volgens Francois is daar heelwat nuwe kinders wat belangstel en wat reeds betrokke is by die musiek vir Time-Out. Hy sê ook dat die band opgewonde is oor wat die jaar inhou, omdat daar so baie uitdagings is wat hulle in die gesig staar. Die leerders wat gereeld Time-Out toe gaan, kan maar kyk hoe nuwe kinders begin om die leisels oor te neem. Daar word nog kinders benodig en as jy 'n instrument kan bespeel en ook op só 'n manier die Naam van die Here wil dien, kan jy gerus met Francois gaan praat. Hou ons dop!

Marthinus Jacobs
Ons het heerlik geëet, lekker gespeel en soos nagtegale gesing. Daar in ons eie klein “Hoekie” by De Wildt naby Brits.
Die koorkamp, die naweek van 22 tot 24 Januarie, was 'n belewenis waaroor almal nog lank sal praat. Mnr. Franz was op sy stukke, mnr. Sean 'n “eager beaver”, juf. Linda in die agtergrond, mnr. “Juf. Linda se man” 'n bobaassjef en ons koorlede in die wolke.
Tyd is afgestaan om mekaar beter te leer ken en gees te vang. Ons het 'n “volleyball”-kompetisie gehou, vroegdag die berg geklim en heerlik in die swembad afgekoel. Laataand is daar onder die sterrehemel kopstukke gesels totdat almal stokflou in die bed geval het. Ons eie Heuwels Fantasties en Lukraaketaar het ook gesorg vir 'n wonderlike atmosfeer.
Almal het egter ook geweet waaroor die naweek gaan en Vrydagaand, Saterdagoggend en Saterdagaand is afgestaan aan die instudeer van nuwe liedjies soos “World in Union” en “Bohemian Rhapsody.” Sondagoggend was die nagtegale net hees gansies en was dit tyd vir huis toe gaan.
Helpmekaar Koor 'n boheemse rapsodie? Watwou! Ons koor “ROCK”!
Stefan Olivier
So kan 'n mens die naweek van 29 tot 31 Januarie in nege woorde opsom, maar Toastmasters gaan oor meer as net glase skink en woorde uitdink. Dit bring Helpies bymekaar wat kan lag oor die lewe van 'n oorstokkie en ernstig kan wonder oor geluk ...
Die doel van hierdie kursus is meer as net “hoe om 'n oulike toespraak te lewer” – dit leer 'n mens hoe om as persoon te ontwikkel en hoe om kommunikasievaardighede te verbeter. En dan is daar ook die vyfster koshuisete, die oorvol Debonairs-motorfiets wat tussen vergaderings by die skool opdaag en die impromptu's (vanaf die gemiddelde aantal “ums” wat 'n mens binne twee minute sê tot by jou opinie oor haarstyle en Julius Malema).
Sestien leerders het vanjaar die kursus bygewoon en aan die einde van die naweek was elke liewe een 'n wenner. Hierdie leerders het in die volgende afdelings koning gekraai:
- Besonderse Presteerder:
Madeleen Swanepoel
- Evalueerder: Tineke Harris
- Impromptu: Marna Ungerer
-Voorbereide Spreker
+ Toast Master: Stefan Olivier
Die kursus is deur die ervare Fritz Duminy aangebied. Almal wat deelgeneem het, het iets daaruit geleer en dit was seker een van dié verrykendste naweke op die Helpie-kalender (ja, selfs meer verrykend as die verpligte rugbywedstryde wat gewoonlik net voor ons eksamen plaasvind). Een van die deelnemers, Semoni Cancelliere het dit beskryf as “een van die lekkerste naweke; 'n goeie manier om 'n bekkige 2010 te begin”. Daar sal later hierdie jaar moontlik weer 'n "toastmasters"-kursus plaasvind – moenie dit weer misloop nie!